uitpak, wegpak en regpak.

partykeer dink ek, mens moenie die dag begin voor jy nie eers rustig oor ‘n koppie tee met jouself gesels het oor al die dinge wat gister, en miskien ook lank terug gebeur het, en al die ander dinge wat miskien in die nag se drome met jou gebeur het.

en dan as jou oë eers alles mooi bekyk het, dan kan jy mos nou alles mooi reg wegbêre. alles in sy plek, soos my ma altyd sê.

‘n hopie hièr, vir ek-het-nou-genoeg-gehad-van-al-die-nonsens-en-ek-gaan-diè-laai-toesluit-vir-ewig-en-altyd.

en ‘n ander hopie daàr vir ek-sal-moet-terugkom-na-jou-toe-want-my-hart-sal-weer-hier-moet-optel-en-voel-en-ruik-sodat-ek-uiteindelik-vrede-kan-eet-hieroor.

en dan is daar ander stukkies wat saggies blink en hulle moet mens nie tè vêr wegsit, want sjoe, is hulle nie pragtig nie?

ek sal hulle elke dag uithaal omdat alles in my kop net wil dans in die sagte lig en my gesig smile net heeldag van al die mooigeid. en dis seker die belangrikste hopie van almal, maar nie alle mense weet dit nie, want hulle sluit nie die laaie met die goed wat hulle harte deurmekaar krap en dan kom staan diè goed swart en knorrig voor hulle elke oggend en dan is dit moeilik om die mooi lig so deur die donkerte te sien.

en vandag huil die wolke hier in glasgow ‘n koue, grys reën en ek het amper vanoggend ‘n laai-sleutel verloor, maar gelukkig het ek hom gekry so tussen gister se krapperigheid en los blaaie, so nou drink ek rooibostee uit my fyn koppie sodat ek al die mooi stukkies son en moederberg en die see van kalkbaai kan uitpak hier op my skoot en my hande kan al die mooigeid vashou en ek kan sommer voel hoe die see my vel liggies nat soen, en ai die lig binne-in my kop is vanoggend so mooi.

— uitpak, wegpak en regpak.

© Liezel Graham 2019.

Foto Lisa Fotios.

#afrikaans